By Willem Taute on Wednesday, 28 February 2018
Category: Willem Taute

Kerk in 'n boot

Twee keer ʼn week sit ek saam met ʼn paar matriek seuns. Ons kuier oor die lewe, geloof, ʼn Bybel versie of twee, en as hulle wil dan bid ons. Van hulle glo in Jesus en van hulle is uitgesproke ateïste. Niemand van hulle is ooit regtig in die bui om te baklei oor geloofsake nie en nie een van hulle probeer ander in die kerk kry nie. Om die waarheid te sê, kerk is effens van ʼn dooie punt by almal van hulle.

“Ek sal eerder in ʼn boot sit en dink oor God, as wat ek in die kerk sit en dink oor visvang,” sê een van hulle. Ek vou amper dubbeld van die lag. Om iets so raak te vat in een sin is gewoonlik ʼn besonderse oomblik. “So bek moet jam kry,” sou my ma gesê het.

Maar dis so waar. Ongelukkig is die kerk eenvoudig net te vervelig vir die deursnee jongmens daar buite. Die groot baksteen gebou op die hoek staan soos ʼn groot grafsteen tussen hulle en God. As ek vir Jesus wil volg moet ek kerk toe gaan. Dis die ongesproke verwagting wat in die lug hang. En dis net te veel gevra om vryheid op te gee vir die kettings van ʼn Sondag oggend diens.

Geskiedkundig was die kerk se oplossing hiervoor meer entertainment. Maar dis ‘n tall order. Dit lê nie in elke ou se broek om elke week ʼn show aanmekaar te slaan nie. Veral nie as die akteurs nie betaal word nie. En is dit in elk geval wat die kerk veronderstel is om te wees?

In Suid-Afrika is kerk ʼn heilige koei. Vat aan die kerk en jy vat nogal seer. Maar kan ons dit bekostig om langer aan te hou met iets wat nie werk nie? Ons het ongelukkig, en in baie gevalle, die vorm bo die funksie begin aanbid. Kerk lyk en voel goed lank nadat sy haar effektiwiteit verloor het. Vorm moet altyd funksie volg. Is ons bereid om die vorm aan te pas sodat funksie verseker kan word?

Ek lei self ʼn kerk (kan mens ʼn kerk lei?). Laas week het ons, onder andere, op ʼn Peruviaanse liedjie gedans, na ʼn koor geluister en saam geëet. Partykeer het ons ʼn behoorlike preek. Die probleem is, vir die wat hou van kerk voel dit te min soos kerk, en vir die wat niks van kerk hou nie voel dit nog steeds te veel soos kerk.

Maar die punt is steeds, kerk is meestal vervelig as kerk gereduseer word tot ʼn baksteen en sement boks op die hoek. Kerk is mense en die leier is Jesus. Kerk pas nie in ʼn boksie in nie. Kerk, nes sy leier, is buite die boks. Ons is die kerk. Kerk is waarookal Jesus-mense bymekaarkom. Maar moenie my glo nie, dis in die Bybel.

Ek hoop ek kan vir my jong vriende wys dat kerk in ʼn boot nogal ʼn lekker kerk kan wees. As jy eers die regte Jesus ontdek is daar wragtag min wat vervelig is.

Leave Comments