Global Challenge Logo

GC Missions Blog Archive text

Participant Blogs

Global Challenge Missions Blog Archive: These are real blogs, from real people, bringing real change...

God is die tydbepaler

bamboo
Deur: Benescke Botha

Die Chinese bamboesriet. ’n Plant wat met ’n klein saadjie in die grond begin. ’n Plant wat na ’n jaar, buiten vir ’n klein groen stukkie uit die grond, skynbaar omtrent niks gegroei het nie.

In die tweede jaar waarin die plant met water gevoed, beskerm en selfs met kunsmis behandel word, is daar steeds min groei. Só ook in die derde en die vierde jaar. Dit is dan, in die vyfde jaar dat iets vreemd met die plant gebeur. In net ses weke skiet die bamboesriet (wat voorheen nog net ’n paar sentimeter bo die grond gestaan het), tot 30 meter die lig in op.

Het die plant binne net ses maande die 30 meter gegroei? Nee, dit het 5 jaar lank geneem. In die eerste vier jaar, waarin dit lyk asof die bamboesriet niks groei nie, is die plant se wortels besig om jaar na jaar dieper in die grond in te sak. Dan, sodra die plant goed gewortel is, begin dit opskiet omdat die plant nou die sterk winde bo in die lug sal kan hanteer.

Ons lewens is baie dieselfde as hierdie bamboesriet. God werk eers aan ons binnekant met ons karakter en integriteit (waar niemand behalwe jyself dit weet nie). Dan, sodra jy gereed en sterk genoeg is begin jy buitekant groei. Skielik kry jy daardie promosie by die werk, ontmoet jy daardie “perfekte lewensmaat” waaroor jy nog altyd gebid het of val een na die ander ding in plek sodat jy jou eie besigheid kan begin.

Wat het gebeur? Jou tyd het aangebreek.

Vir God is jou karakter die belangrikste. Hy wil altyd eers seker maak dat jy die druk en uitdagings sal kan hanteer wat saam met die volgende seisoen in jou lewe kom, voordat hy jou bevorder.

Kyk maar na die Bybelhelde. Ieder en elk van hulle wat iets groot vir God vermag het, het eers deur ’n voorbereidingstyd gegaan. Neem byvoorbeeld vir Dawid. Nadat hy as koning gesalf is, moes hy vir sowat 15 jaar lank voor koning Saul en sy manskappe vlug voordat hy eindelik as koning van Israel gekroon kon word. Dit was in daardie tyd, waar hy telkemale in doodsgevaar verkeer het, dat Dawid sy afhanklikheid van God besef het. Luister maar na sy woorde in Psalm 31:15: “Ek vertrou op U, Here. Ek sê: ‘U is my God. My tye is in u hand.’”

Dink ook aan Josef. Vir hom was die voorbereidingstyd in ’n koue, stink Egiptiese tronksel. Nadat hy die skinker en bakker se drome uitgelê het, het hy gehoop om gou vrygelaat te word. Hy sou egter vir ’n verdere 2 jaar in die tronk opgesluit bly. Hoekom? Sy karakter was nog nie gereed nie. Psalm 105:19 “Until the time came to fulfil his dreams, the Lord tested Joseph’s character”. MAAR,  toe Josef wel gereed was, kon God hom van ’n gevangene in ’n stink tronksel tot onderkoning van Egipte bevorder – in net een dag.

Selfs Jesus het deur ’n voorbereidingstyd in sy lewe gegaan. Voor hy 30 jaar oud was, het hy nie een wonderteken gedoen nie. Tog, toe die regte tyd aanbreek, het Hy in drie jaar ’n bediening gehad wat tot vandag toe nog hoop aan mense regdeur die wêreld bring.

God is die TYDBEPALER – ook van jou lewe. Hy ken jou drome. Hy het dit immers in jou hart geplaas toe hy jou geskape het. Wanneer jy getrou bly in die klein, alledaagse dinge in jou lewe, is jy besig om vir jou bamboesriet water te gee. Onthou, God hou jou dop. Hy toets jou karakter. As Hy jou getrou bevind mag jou dag om 30 meter die lig in te skiet, dalk net om die draai wees. Sterkte.

[ Om in te teken by vers 'n dag, kliek hier ]

Rate this blog entry:
Vision for 80 Days
A Life changing journey
 

Comments

Guest - Anna-Marie on Saturday, 24 October 2009 02:21

Fantasties geskryf! Hoop jou reis is wonderlik.

0
Fantasties geskryf! Hoop jou reis is wonderlik.

GC Logo White Jumper Man Transparent medium

Thanks to QuestionPro for providing us over 35 question types to choose from. The advanced question types help up collect deep insights.

© Global Challenge. All rights reserved.