Dit was die perfekte oggend. Wolke wat die berge omvou, mis oor die meer, die maan amper volrond en die lug wat verkleur van donkerblou na pers en dan saggies wasempienk. 'n Eensame vissersbootjie dobber op die water en riete maak skaam hulle verskyning soos die water liggies terugtrek en opstoot. Die son kom aan die een kant op en aan die ander gaan die maan onder. Vir 'n oomblik gee dag en nag mekaar 'n skuins-soen op die wang van die meer.
Sonsopkoms het 'n spesiale betekenis gehad. 'n Deel van 'n liedjie "Dante's Prayer" spook al heel jaar by my:
"I did not believe because I could not see
Though you came to me in the night
When the dawn seemed forever lost
You showed me your love in the light of the stars"
Dit is wat die Here vir my gedoen het en in erkenning wou ek gedoop word terwyl die aand nog in die lug huiwer.
Wesley begin "Love song" van Third Day sing en speel op die kitaar, 'n liedjie wat baie spesiale betekenis het vir my. Stadig begin ek afstap om langs Ben (die pastoor wat my doop) te gaan staan digby die water. Elke klippie voel sensitief-skerp onder my kaal voete. Elke asemteug, reuk, gevoel en geluid geaksentueer vir die vasle van die oomblik in my hart. Met my hart kloppend van afwagting staan ek en luister na die liedjie...die Here slaan my asem weg met die perfektheid van die dag en die omvang van Sy liefde. Met die liefdesbrief wat ek geskryf het vir die Here vasgeklem in my een hand draai ek na die span wat getuies is van die belofte wat ek oppad is om te maak. Stadig lees ek die brief, want ek weet Hy luister:
My Geliefde
Hard en lank het ek na Jou gesoek...Tot my siel bloedstrepe in sleepsels agter my aangetrek is. Sterkfyn spinnerakdrade het die lewe uit my hart gepers. In die diepste swart-galbitter gat water het ek uitgeskree in pyn. Pyn vir Jou. Omdat ek Jou nodiger het as suurstof. Omdat ek Jou liewer het as die lewe self...en omdat kettings my weerhou het om by Jou uit te kom. Spooksel-wasem antwoorde het leidrade gegee van Jou liefde vir my. Te goed om waar te wees, het ek kopskuddend leuens geglo. Vegtend het ek vasgeskop teen Jou sterk hand wat my vlindervlerk sag omvou het, tot ek neergeval het van moegheid en kanniemeernie.
Jy het my kom vrymaak om Jou lief te he met elke partikel van my wese. Om saam met Jou te dans tot ons saam vlieg in kleur.
Vandag kom staan ek voor Jou, my Koning. In 'n bloedrooi feetjie rok voor my Droomprins... vir die passie wat deur my are pols met elke hartklop. Kaalvoet, vir die onthou van die lang en harde pad wat ek moes stap om by Jou hart uit te kom.
Vandag kom gee ek my alles oor. Kom ek om te sterf in myself vir Jou. Sodat ek in oorgawe saam met Jou kan lewe. Laat dit vandag weergalm in die hemel, Christine is uitverkoop aan Jesus Christus. Hy is my Koning en Verlosser. En ek is so baie lief vir Jou!!
Die gevoel van stil-skroeiende liefde brand in my. Saam met Ben en Sulene draai ek om die water in te stap. Die rooi sy van die rok begin saam met die water vloeiend beweeg. Die water is louwarm in die koue oggend lug. Die grootheid van die oomblik slaan my asem weg. Die groot, gemerkte pastoor langs my begin traan. Die sekondes tik verby terwyl hy sy composure weer probeer kry. Met my hand in syne kyk ek af na die tattoos op sy arm en die begrip van genade probeer trapplek kry in my brein... 'n Diepe dankbaarheid neem my gedagtes oor. Stadig word ek afgesak en die water spoel sag oor my. Tyd staan stil vir 'n paar sekondes vir my. 'n Bo-aardse kalmte en vrede daal op my neer. Dan breek ek deur die water en 'n ongekende vreugde kom dans in my hart.
Mag ek met elke asemteug glory aan God bring uit dankbaarheid vir wat Hy gedoen het...en uit die diep liefde wat kom wortelskiet het in my hart.
Comments